Thursday, September 15, 2011

Foto's

My foto's van Ierland en Engeland vertel meer van die besoek.
Ierland s'n is hier, en Engeland hier.

Wednesday, September 14, 2011

My kuiertjie in Engeland: 31 Augustus tot 3 September 2011

31 Augustus was maar net heeldag reis. Ek het gepak en uitgeteken, en is so 10:15 met 'n taxi Galway stasie (coach station) toe waarna ek weer die bus Dublin toe geneem het. Daar is ek toe op die vliegtuig Heathrow toe waar Lindi my gekry het. Ek was so dankbaar dat ek nie nog 'n keer van publieke vervoer moes gebruik maak nie.

Dit was heerlik om by Sarel in Lindi te kuier. Die kinders word so groot en raak regtig net al hoe ouliker. Hulle het 'n lieflike huis en dit was lekker om Ma ook weer te sien so saam met die uitgeweke familie.

1 September het Lindi my en Ma Windsor toe geneem. Dit was vir my vreeslik interessant om die Windsor-kasteel te sien wat die Britse koninklikes nog aktief gebruik. Blykbaar is die kasteel wat die langste in gebruik is, meer as 1000 jaar. Die koningin spandeer  omtrent elke naweek daar. Soos altyd in Europa kry mens die gevoel van eeue se lief en leed. Ons was vinnig deur die St Georges Chapel en die State Apartments. Die skatte, die skatte ... dis asemrowend om te dink iemand van vlees en bloed leef so!

Ek het vir Thinus se Meerschaum-pyp ook in Windsor by 'n klein twakwinkeltjie wat Lindi raakgeloop het, gekoop. Ek is baie bly ek kon een kry! Lindi is soos 'n bloedhond wat sulke winkels aanbetref - sy kry almal opgespoor. Sien interessante inligting oor Meerschaum by wikipedia.

Vrydag, 2 September is ons almal strand toe.  Dit was 'n heerlike dag en die weer was regtig lekker. Die kinders het die water en strand baie geniet. Ek sal die foto's later oplaai, my internet wil nie so lekker werk nie. Lyk asof iets sy gorrel toedruk.

Saterdagoggend het Sarel my en Ma vermaak deur ons met 'n kartoer na al die klein dorpies in Surry  te neem. Dit was so interessant. Dit is pragtig daar met die tipiese Engelse groen heuwels, woude  en klein, stokou dorpies waaroor digters liries kan raak. Sarel-hulle ry fietsroetes deur dis dorpies en ken diemooi, klein agterstraatjies en goeie pubs soos die palm van sy hand.

Dit was so spesiaal om bietjie by die familie te kuier, ek is baie dankbaar dat ek dit kon doen. Ons sien so min van mekaar, en ek is so 'n slegte beller.

Saterdagaand moes ek die vlug terug SA toe neem. Gelukkig vlieg ons ou SAL nou van Heathrow Terminaal 1 af, dis minder besig daar. Ek het eers heeltemal te veel geld uitgegee omdat ek na almal verlang het (Ane horlosie, Thinus whiskey en Aurona parfuum).  Dit was 'n lang vlug terug, ek kon nie wag om by die huis te kom nie. Dit was 'n baie lekker trip maar ek het regtig hierdie keer my familie gemis.

Tuesday, August 30, 2011

30 Augustus - Laaste dag in Galway

Ek het vanmiddag die laaste sessie afgegee, ek was net nie meer lus nie en ek voel asof ek wil verkoue kry. My neus loop en my kop is seer. Hoop ek kry dit afgeskud. Ek het van die universiteit af bietjie in Galway gaan rondloop, vir Ma 'n yskasmagneet gekoop, vir almal anders kouse, en Dunaras toe gekom.

Ek by die Spanish Arch in Galway.
Ek het die kamera op 'n asblik gesit op self-timer.
Ander fotos is by my Picasa Album



More moet ek die pad Dublin toe aandurf en daarna London toe vlieg. Ek moet nog pak en moet die bus 11:15 in Galway se middestad kry. Moreaand is ek darem by Sarel in Lindi in London. Ek sien baie uit na die kuier!

29-30 Augustus

Konferensie, konferensie, konferensie ... RR2011
Baie werk wat agter raak ...
Ek verlang nou huistoe!




Sunday, August 28, 2011

Sondag - 29 Augustus

Die summer school is verby en ons het effens gekonfedereer met die Iere, allerande planne gemaak om Biodiversity Informatics te verbeter met ontologiee en vandag die Aran Islands as 'n uitstappie van die summer school besoek. Wat 'n ongelooflike ervaring! Dit was 'n heerlike dag. Ten spyte van al die weervoorspellings wat 'n 80% kans op reen voorspel het, het ons 'n wonderlike sonskyndag gehad. Ons het met die bus tot by die Ferry punt gery, 'n pragtige toggie opsigself. Daarna met 'n ferry tot by die eiland gevaar en toe met fietse die hoofeiland verken. Ons wou ver ry, maar het heeltyd verdwaal (vir 'n verandering het ek niks met die verdwaal te doen gehad nie). Vanaand het ons Willem se inspirasie en kookuns ervaar (dit was baie lekker, ek is moeg vir restaurantkos), weer gestry oor God se bestaan en nou is ek flou en ons moet more vroeg op vir die konferensie. Gisternag 4am het die tannie bo ons begin pak met hoehakskoene, en tasse en meubels rondgeskuif, so ek gaan nou slaap.

Saturday, August 27, 2011

Dae 5 en 6 - 26 en 27 Augustus

Besig, besig, besig. As mens so reis bly mens maar baie besig. Gister was 'n baie lang dag. Ons het lesings gehad van 9:00 tot gisteraand 18:30. Daarna het ons ingegaan Galway se ou stad toe om te gaan eet. Ek het darem Thinus se pyp kon koop. Die omie by die pypwinkel vertel my toe dat sy 'great niece?'  Annie Emmet was wat met Louis Botha getroud is. Annie Emmet was 'n kleinkind van 'n Ierse patriot (Annie Frances Bland Emmett, the English daughter of John Cheere Emmett) wat onthoof is deur die Engelse. Die kinders (maw Annie se ouers), het toe SA toe geemigreer en Annie is in Swellendam gebore. Sy is later met Louis Botha getroud, en daar is baie bespiegelings dat haar anti-Engelse sentiment bygedra het om Louis Botha tot die Anglo-Boereoorlog te laat toetree. Sien meer inligting oor Louis Botha hier, hier en hier.
Van die Google boek 'A question of treason' deur Francis Hugh De Souza.
 Daarna het ons vir Tommie en Kody gaan wag by die King's Head. Dit is 'n pub in die middel van ou-Galway en die familie van die 'executioner' wat Koning Charles die 2e se kop afegkap het, het volgens oorlewering daar gebly (tourist trap). Dis bietjie duur en bedien nie vegetariese disse nie, so ons het toe 'n entjie straataf geloop en geet by Druid's Lane wat Italiaanse en Thai kos verkoop terwyl ons ky na advertensies vir Yoga. Die wereld is heeltemal te internasionaal en multi-kultureel.