Na 24 uur is ek uiteindelik in ons woonstelletjie. Dit is nou na Ma Rose se verjaarsdagpartytjie Saterdag, en daarna nog Krummel se Affies-Wildsfees. Ons het laat in die bed gekom Saterdagaand. Ek was stokflou toe ek en Ma Elfie uiteindelik op die lughawe kom. Ouma wil 4 ure voor die tyd daar wees en inboek. Sy vlieg toe BA en ek SAL op pad London toe, en ons moet by verskillende terminale inboek. Ouma is baie senuweeagtig, sy lees niks en vra almal wat sy raakloop alles. Op die ou end is ons paaie geskei na sy ingeboek is, sy wou deur sekuriteit so gou as wat moontlik is. Ek het haar maar na die tyd weer gaan opspoor by hek A30 waar sy kiertsregop op die derde sitplek van voor gesit en wag het 'n uur en 'n half voor opklimtyd.
|
Dublin Lughawe |
My vlug was heel vervelig en beknop. Daar was 'n Afrika Mama langs my wat gesukkel het om in die sitplek in te pas. Dit was 'n woelige nag.
Ek het net 'n uur op Heathrow gehad voor ek die British Midlands vlug moes haal Dublin toe. Ek het dit net-net gemaak vir die hek want mens moet deur sekuriteit en paspoortbeheer en weer deur sekuriteit. Ek het nogal gedink my tas gaan dit nie maak nie, maar wonder bo wonder kom hy toe in Dublin uit. My tas was amper eerste op die band, so hy was seker omtrent laaste in die vliegtuig ingelaai.
Van Dublin het ek die bus gehaal Galway toe.
Citylink is goed georganiseer en dis 15Euro 'n kaartjie, heel skaflik gegee die afstand. Dis meer as 3 ure op die bus, en die bus het Wifi. Ek hetgedog ek gaan lekker lees en werk, maar ek het karsiek geword, so ek het meeste van die tyd net by die venster gesit en uitkyk. Ierland is vir my mooi, groen 'paddocks' met vet koeie en wollerige swart en wit skape. Daar was 'n hele paar perde ook!
Na die busrit moes ek nog
Dunaras toe met die taxi. Dis so 7km in Galway, maar hulle is orals besig met padkonstruksie en dit was spitstyd. Na 40min was ek eers in die woonstel. Dit het my meer gekos as die bus!
Ek was flou en ons het sommer net in die woonstel geeet. Brood en kaas en Lasagne.